Vinca / Catharanthus roseus of "kanniedood"

Vinca of kanniedood is plante wat die somerhitte goed kan deurstaan. Dit is ’n jaarplant en groei baie goed in die hittigste tyd van die jaar. Catharanthus is oorspronklik van Madagaskar en word ook die “Madagascar rosy periwinkle” genoem.

Dit is immergroen en word tot 1 meter hoog. Die blare van die plant is ovaal met ’n duidelike aar in die middel, hulle is blink groen en volop. Die Catharanthus wat wild in die veld groei, is geneig om baie gou te versprei. Hul het nie ryk of goeie grond nodig nie en die kleure wissel van pers tot wit en blom aanhoudend. Hulle groei ook sommer in enige klimaat en versprei met saad.

Vinca, die tuinbedding plant kom in baie verskillende kleure voor.

Daar is ook een wat amper swart is, en lyk soos juweel. Indien u in ’n baie droë warm gebied woonagtig is, kan u gerus oorweeg om vinca’s te plant want hulle kan uiterste hitte weerstaan en in strawwe toestande groei.

Die beddingvinca wat ons ken, is ’n baie mooier plant en is ook rateltaai. Dit is bosagtig en baie kompak. Hierdie beddingvinca versprei nie so maklik met selfsaai nie, maar hulle blom vir lang tydperke. Dit is plaagvrye plante en die dooie blomme hoef nie uitgepluk te word nie, hulle hou net aan met die oorvloedige blomme. Wanneer ons vinca’s in massa aanplant in verskeie kleure vertoon dit pragtig. Hierdie blommetjies het dieselfde voorkoms as impatiens, maar weens hulle leeragtige blare is hulle baie beter bestand teen son.

Vinca’s moet in volson geplant word, in goed gedreineerde grond. Gee elke plantjie genoeg plek en plant hulle so min of meer 20cm uitmekaar vir goeie lugbeweging en om stamvrot te voorkom. Wanneer die plant goed gevestig is, moet hy nie meer te veel water kry nie.

Hoewel die meeste vinca’s dieselfde lyk het hulle verskillende groei kenmerke. Die “Jams ’n Jellies het wit, rooi, swartbessie en nog vele meer kombinasies van kleure. Plant hulle gerus in potte vir die vensterbank of in hangmandjies.

Plant sommer baie vinca’s voor die somer verby is, hulle groei vinnig en blom ook baie gou. Onthou egter dat dit toksies is en was u hande goed nadat u met hierdie plante gewerk het.

Geniet u tuin in Januarie, daar is sommer baie werk in die tuin, veral na die heerlike omtrent landswye reën.