Stigting van Dagbreektrust

Die Afrikaanse Sondagkoerant Dagbreek is in 1947 opgerig danksy samewerking tussen direksielede van die Strathmore-myngroep, voormalige werknemers van die Afrikaanse Pers wat in 1946 weens ‘n meningsverskil bedank het en prof. Wicus du Plessis se Perskorporasie van Suid-Afrika. Die koerant was polities onafhanklik en moes eenheid tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners bevorder.

Bedenkings het mettertyd aan albei kante van die taalgrens ontstaan oor hulle samewerking in Dagbreekpers. In 1953 verkry Marius Jooste, besturende direkteur, dus by kol. Jack Scott van die Strathmore-groep ‘n opsie vir al die aandele wat die "Engelse kant" in die koerant besit het. Om die nodige kapitaal hiervoor te verkry, sou ‘n vasberade veldtog verg en daarom nader Jooste vir adv. J G Strijdom, toe leier van die Nasionale Party in Transvaal, aan wie hy sy opsie oormaak.

Van toe af sou Dagbreek die Nasionale Party sterk steun.

Die destydse N.P.-sekretaris, Jack Steyl, vertel in "’n Volk staan op uit sy as", hoe die party hom beywer het om Dagbreek onder sy beheer te kry.

Toe dit duidelik geword het dat die verkryging van Dagbreek vir die nasionale saak binne bereik gekom het, het niemand minder nie as adv. Strijdom en dr. Verwoerd saam met ander ministers ingespring om die Nasionaliste van Transvaal te organiseer om tot die daad oor te gaan. Dit was ‘n geloofsdaad: £100,000 was nodig om die gedeelte van die aandele wat behoort het aan die destydse Scottgroep oor te neem.

"Groepies Nasionaliste is dwarsdeur Transvaal byeengebring en toegespreek. Afdelingsbesture van die party het hand bygesit. Geld was nie volop nie, maar adv. Hans Strijdom het gepraat, en die lojaliteit en die geloof was daar.

‘n Dag voordat die aanbod sou verval, is nie alleen die volle bedrag gevind nie maar was daar ‘n aansienlike bedrag oor wat nuttig as bedryfskapitaal aangewend kon word.

Adv. J.G. Strijdom, sou as tweede voorsitter van die direksie van Dagbreekpers Beperk, tot 1958 diens doen. Vir hom moes die koerant in belang van die Afrikanersaak, in die hande bly van Nasionaliste wat volksdiens sou lewer.

Strijdom is met sy skielike heengaan op 24 Augustus 1958 as voorsitter van Dagbreektrust opgevolg deur die nuut verkose eerste minister, wyle dr. H.F. Verwoerd.

In die jare daarna sou Dagbreektrust op verskillende maniere die volk se belange dra, en eers na die dood van dr. Verwoerd het die eerste tekens na vore gekom dat die Afrikanersaak versaak gaan word.

Mense wat dr. Verwoerd gevolg het as leier, was later van die sterkste voorstanders van oorgawe en het nie gehuiwer om as direkteure van Dagbreektrust die volk se geld aan te wend teen dit waarvoor die Trust tot stand gebring is nie.

Nou, meer as ʼn halfeeu later het Dagbreektrust sy ideale skynbaar verwerp en ʼn nuwe gees gevestig. Die oprigtingsakte wat bepaal het dat die Trust slegs vir Afrikaners se belange in die mediawêreld aangewend mag word, het vervaag. Dit word beweer dat Dagbreektrust se bates van miljoene Rand aanwend word om teen die vryheidsgesinde Afrikanervolk te werk.

Dit word ook beweer dat die Trust deur lede van die omstrede Broederbond beheer word, en dit is bekend dat mnr. Flip Buys, die hoof van die multikulturele vakbond Solidariteit, ook een van die lede van die direksie is.

Naskrif: Net soos destyds, werk die ware nasionaliste, die Boere-Afrikaners, weereens om sy eie medianetwerk op te bou in belang van die volk se strewe na vryheid. Hierdie keer is daar een verskil – die beheer sal nie uit die hand van die volk geruk word nie – en Die Vryburger is die eerste stap om beslag te gee aan die vestiging van so ʼn eie netwerk.

Foto – Dr. H. F. Verwoerd