Nog ‘n verraaier!

Verskuil sonder ‘n naam en slegs bekend as A, het die man wat ‘n voormalige provinsiale rugbyspeler was wat vir die Grens se Bulldogs en Valke gespeel het, erken dat hy deur die polisie gekontrakteer is om regse kringe in te sypel om inligting oor die bedrywighede van die Geloftevolk Republikeine en hulle leier André Visagie in te samel.

Die erkenning is in die hof gemaak tydens die verhoor in die Vrystaatse Hooggeregshof oor die sogenaamde "Slag van Manguang."

Volgens die insypelaar sou dit die lont in die kruitvat wees wat regses oor die hele land in opstand teen die regering sou bring.

Regter M.H. Rampai het voorlopig gelas dat die verraaier se naam nie in die media bekend gemaak word nie. Dis is wel bekend dat hy ‘n veiligheidsmaatskappy het.

Volgens hom het ‘n vol Caledonrivier by Ficksburg verhoed dat die nodige wapens daar was om die Callie Human-saal op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat aan te val op 16 Desember 2012, waar die ANC gekies het om sy verkiesingskonferensie te hou.

Ene Petrus uit Lesotho kon nie die wapens deur die vol rivier na die wagtende regses aan die Vrystaatkant bring nie.

Hy getuig in die verhoor van Johan Prinsloo (50) van Springs, ‘n  lid van die Boere-beskermingsforum (BBF) en ook voorsitter van die Volksorganisasie-leiersberaad (Volber), wat skuld ontken op klagte van hoogverraad, sameswering om aan terroriste bedrywighede deel te neem en die onwettige besit van ammunisie.

A het getuig dat hy ‘n vertroueling van regses geword het nadat hy na Bloemfontein verhuis het en veiligheidsdienste teen veediefstalle op die grens met Lesotho verskaf het. Hy en Martin Keevy het inligting ingesamel oor die weermagbasisse in Bloemfontein, watter wapens daar is asook oor die polisiekantore.

Tydens ‘n vergadering op Kroonstad in 2012 moes hulle die Boere-eed aflê en is hulle deur Mark Trollip met die dood gedreig as hulle verraaiers sou word.

Keevy, wat bouwerk gedoen het, kon ‘n vragmotor kry waarmee ‘n G6-kanon van Prieska na Bloemfontein vervoer kom word. Op sy bouterrein sou hy ‘n gat grawe waarin die mortiere en R4-gewere vir die aanval onder ‘n houer versteek kon word.

Op 12 Desember 2012 met ‘n vergadering in ‘n hotelkroeg op Ficksburg het Prinsloo gesê daar is ‘n wapenopslagplek by Louis Trichardt wat hy en sy mense sou aanval en waar hulle wapens kon kry. Die planne van die mortiere wat op die saal afgevuur sou word, is deur Trollip uiteengesit.

‘n Spesiale eenheid sou vuur op die oorlewende hooggeplaastes wat uit die saal sou kom. Die aanval sou die lont in die kruitvat wees wat ander regse groepe sou laat deelneem. Die aanval moes saamval met die Geloftefees by die Voortrekkermonument wanneer die son om 12 uur op die senotaaf val.