Die Vryheidsideaal – slot

Die verskeidenheid van Republieke wat gestig is, en later saamgesnoer is, het uiteindelik daartoe gelei dat die Boere twee pragtige state gevestig het, wat alhoewel hul pogings om een staat te word, nie geslaag het nie, wel in die uur van nood, eendragtig opgetree.

 

Die Utrechtse Republiek

In 1843 is die Republiek van Kliprivier deur Engeland geannekseer. Sowat twee-derdes van die Natalse Voortrekkers het toe na die latere Vrystaat en Transvaal getrek. Van die orige een-derde het drie, te wete A. T. Spies, J. C. Klopper en C. J. van Rooyen agtergebly en grond, oos van die Buffelsrivier, vir 300 beeste van Mpande in 1852 verruil. Die transaksie het maklik verloop, aangesien van Rooyen, wat vlot Zoeloe kon praat, op ‘n baie goeie voet met die Zoeloe-koning verkeer het

Van Rooyen het voor 1852 reeds van Mpande toestemming gehad om die grond ten ooste van die Buffelsrivier as weiding te gebruik.

Die grootste gedeelte van Noordwes-Natal is deur Shaka gebuit voor ongeveer 1820 toe hy die Hlubi’s, aldaar verdryf het, en die genoemde gebied dus Zoeloe-eiendom geword het, maar hulle self nie daar gaan vestig het nie.

In argiefstukke word daar verwys na die "Buffelsrivier maatschappij", bedoelende sekere families wat hulle saam met van Rooyen daar gaan vestig het.

In ‘n proklamasie van 27 Desember 1852 verwittig komdt A. W. J. Pretorius hulle dat die ZAR nie die transaksie erken nie. Die rede daarvoor was klaarblyklik dat die ZAR bang was om weer die Engelse om te krap, aangesien die Buffelsrivier die grens tussen die Voortrekkers en die Engelse sou wees na hulle anneksasie van die Kliprivier-republiek. Die Volksraad van die ZAR herhaal die waarskuwing weereens in ‘n brief dds Desember 1853, gerig aan ‘n sekere "Philip Koch en de overigen bewoners van de omstreken der Buffelsrivier".

Die inwoners het aansluiting met die ZAR gesoek, maar is nie toegelaat nie. Op 8 September 1854 het die driemanskap, Van Rooyen, Spies en Klopper die grondgebied weer gekoop van Mpande vir ‘n verdere 100 beeste, waarby ‘n koopbrief geteken is.

Die Utrechtse Republiek (na die stigting van die Nieuwe Republiek bekend as die Oude Republiek) het voortbestaan tot 1858 toe die Utrechtse en Lydenburgse republieke saamgesmelt het, en bekend was as die Republiek van Lydenburg. Hierdie republiek het in 1860 deel geword van die ZAR tot op 31 Mei 1902 toe Utrecht se distrik saam met die van Vryheid (vroeër die Niewe Republiek) as oorlogsbuit aan Natal gegee is.

 

Republiek Goosen

Goosen (genoem na die Bybelse Land van Goosen) was ‘n Boererepubliek met ‘n kortstondige bestaan van 24 Oktober 1882 tot 7 Augustus 1883; dit was geleë in ‘n deel van Brits-Betsjoenaland, wes van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek. Die hoofsetel van die republiek was Rooigrond aan die Transvaalse westelike grens.

Op 7 Augustus 1883 verenig dit met Stellaland om die Verenigde State van Stellaland te vorm. In 1885 stuur die Britte egter ‘n militêre mag, onder sir Charles Warren, na die gebied en word die republiek vervolgens afgeskaf op 30 September in dieselfde jaar en word weer ingelyf by Brits-Betsjoenaland.

 

Republiek Klein Vrystaat was ‘n kortstondige Boererepubliek in die Piet Retief omgewing. In ongeveer 1876 het ‘n groep Boere op grond gewoon wat van die Swazi koning Umbandino gekoop is. In 1886 is ‘n formele regering gevorm gevolg deur die aanneming van ‘n grondwet.

Die staat het voortbestaan tot 1891 toe dit in die Zuid-Afrikaansche Republiek opgeneem is.

 

Die Vryheid of Nieuwe Republiek was een van die kleiner Boererepublieke in die huidige Suid-Afrika wat deur die Voortrekkers gestig is nadat hulle die Kaapkolonie onder Britse beheer verlaat het. Die Nieuwe Republiek het slegs vir ‘n kort tydperk tussen 1884 en 1888 bestaan voor dit in die Zuid-Afrikaansche Republiek opgeneem is as die Distrik Vryheid.

Stellaland, amptelik Republiek Stellaland & Het Land Goosen, ná die unifikasie met Goosen Verenigde Staten van Stellaland, was vanaf 1882 tot 1885 ‘n onafhanklike Boererepubliek in die noordelike deel van die destydse Kaapkolonie 

Vandag word die naam steeds gebruik om die streek aan te dui wat die dorpe Vryburg, Stella en Reivilo insluit, asook kleiner plekke soos Bray, Tosca en Vorstershoop.

Die naam kom van Stella, die Latynse woord vir ster en is blykbaar gekies omdat daar ’n komeet in die nagruim sigbaar was tydens die gevegte wat aanleiding gegee het tot die stigting van die republiek..

Die Republiek van Upingtonia was ‘n Boererepubliek met ‘n kort bestaan wat op 20 Oktober 1885 in die Suide van Angola gestig was, en in 1887 tot ‘n val gekom het. In 1886 verander Upingtonia se naam na Lijdensrust. Upingtonia se hoofstad was Grootfontein en die staatshoof was President George Diederik P. Prinsloo.

Gedurende die dorslandtrek van 1874 tot 1880 het sommige boere vanaf Transvaal na Suid-Angola gemigreer. Na konflikte met die Portugese owerhede het sommige teruggekeer na Transvaal, terwyl ander verder suid gemigreer het. Hier het hulle die Republiek van Upingtonia gestig, vernoem na Thomas Upington, ‘n vername persoon vanaf die Kaapkolonie van wie hulle hulp verwag het. Om te voorkom dat die Herero’s hulle verslaan, aanvaar hulle later Duitse beskerming en word by Suidwes-Afrika ingelyf.

Vlag – Republiek Goosen