Bekende akteur pleeg selfmoord

Die akteur, Nico Liebenberg (59), se lyk is gevind nadat hy ‘n paar dae gelede soek geraak het. Liebenberg het homself aan ‘n boom, sowat 800 m  van sy huis in Orchards in Akasia, noord van Pretoria, opgehang.

Sy lewensmaat van die afgelope 13 jaar, Riana Jacobsz, het hom verlede Donderdag as vermis aangemeld, nadat hy met sy fiets gaan ry het.

Volgens haar was daar op die oog af niks verkeerd nie en het hy vir haar gewaai en geglimlag toe hy gery het. Toe hy om 19:00 nie tuis was nie, het sy onraad vermoed en die polisie gekontak.

Kollegas van Liebenberg het hom as een van Suid-Afrika se uitstaande akteurs beskryf. Hy was bekend vir sy professionaliteit op die verhoog, vriendelikheid teenoor sy mede-akteurs en hoe hy met pouses met sy teks in die hand gesit en studeer het. ‘n Veelsydige akteur is hy as die opvolger van die bekende Cobus Rossouw beskou.

Gedurende die bloeitydperk van die Afrikaanse uitvoerende kunste in die jare sestig tot middel tagtig was hy en sy destydse vrou, Trudie Taljaard, bekende gesigte op die kassie gewees.

Hy sal onthou word vir sy rol as Pieter Groenewald in die TV-reeks Konings, asook optredes in Meester, Die Glaskasteel en talle verhoogstukke.

‘n Lyer aan depressie is hy medies ongeskik verklaar. Jacobsz, ‘n onderwyseres is ook weens ‘n gewas aan die brein medies ongeskik verklaar. Volgens haar het die finansies hom geweldig gekwel. Hoewel hulle ‘n afbetaalde huis gehad het, het sy nie meer oor ‘n mediese fonds beskik nie, omdat hulle nie die premies kon bekostig nie.

Hy word oorleef deur sy en Jacosz se 12-jarige seun, Frikkie, asook twee dogters, Justine en Eloise uit sy huwelik met Taljaard.