Uit Aida van Verdi

 

Hierdie week is daar twee uittreksels uit Verdi se opera, Aida.

Die opera is op versoek van die khedive (onderkoning) Isma’il Pasha, van Egipte gekomponeer. Dit is nie korrek dar dit vir die opening van die Suez-kanaal gekomponeer is nie. Verdi is genader om iets vir die geleentheid te komponeer, maar hy het geweier en gesê hy komponeer nie "geleenheidsmusiek" nie.

Die eerste uittreksel is die bekende "Celeste Aida," (Skone Aida), hier gesing deur die tenoor Luciano Pavarotti tydens ‘n produksie in die La Scala Operahuis in 1986.

Na ‘n kort voorspel open die opera met hierdie aria, ‘n breker en toets vir enige tenoor met die hoë B-mol aan die einde, wat Pavarotti hier vir 12 sekondes aanhou. Die opera handel oor liefde, hartstog, jaloesie en oorlog. Radames (Pavarotti) die generaal van die Egiptiese magte sing van sy ambisie om van die oorlog terug te keer en sy oorwinning voor die voete van die vrou wat hy bemin, Aida, te plaas.

Aan die einde sing hy dat hy ‘n blommekrans op haar kop sal plaas en vir haar ‘n troon langs die son sal oprig. Interessant dus in hierdie produjksie die regie die woorde versterk met die rooi van die sonsopkoms aan die einde van die aria. 

Natuurlik is dinge nie eenvoudig nie, en alles eindig in trane en die dood. Maar hier is die droom nog vars.

 

 

Die tweede uittreksel is ‘n konsertuitvoering van die bekende Groot Mars uit dieselfde opera. Dit word uitgevoer deur die Berlynse Filharmoniese Orkes en Koor onder die bekwame leiding van Claudio Abbado.

Interessant van hierdie uitvoering is dat dit ‘n buitelugkonsert is en dit reën.  Maar, daar is letterlik duisende mense wat dit steeds bywoon. Op die merk 4:10  is daar ‘n kostelike klein seuntjie wat lustig saam dirigeer (nogal baie ritmies ook) ten spyte van die loop neusie a.g.v. die koue en die reën, maar let op merk 4:35  hoe gee hy uiting aan sy vreugde in soentjies en ‘n spontane omhelsing vir sy ma. Duidelik as ‘n mens na hierdie knapie kyk, hoef jy nie klassieke te verstaan nie, jy moet net van kleinsaf daaraan blootgestel word.