Negejarige wen groot sangkompetisie

Die Suid-Afrikaans gebore Amira Willighagen (9) het die Nederlandse TV-talente program “Holland’s Got Talent” gewen met haar skitterende sang.

Met ’n duidelike Afrikaanse aksent het sy haar blydskap te kenne gegee toe sy verneem dat ’n deel van die wenprys ’n besoek aan Las Vegas sal wees waar sy ook sal optree.

Met haar vertolking van Puccini se “Nessun Dorma” het Amira ongeveer 51% van die totale Nederlandse stemme op haar verenig.

Een van die beoordelaars sê die jonge dame se stem is besonder sterk vir haar ouderdom, en eintlik ’n baie rare verskynsel, maar ook ’n besondere gawe wat sy ontvang het.

Ma Friedae hou egter ’n wakende oog oor haar juweel, want die laatnag optrede moet met ’n bietjie oggend-laatslaap toegelaat word.

Selfs die burgemeester van Nijmegen, die Nederlandse stad waar Amira saam met haar ouers woon, het haar tuis besoek en geluk gewens met die groot prestasie.

Haar ouers, Gerrit en Frieda, maak egter baie seker dat sy nie onder te veel druk kom met onderhoude en ander sosiale verpligtinge nie.

“Sy is nog baie jonk, en ons moet haar beskerm”, het ma Frieda gesê.

Familie en vriende in Suid-Afrika het die jong sanger met oproepe, SMS en e-posse ondersteun en geluk gewens.

Amira moet nou konsentreer op Las Vegas se optrede, en wil graag die vakansietyd in dié Amerikaanse stad gaan geniet, terwyl hulle ook gereed maak vir die moontlikheid van ’n platekontrak.

Luister gerus na die jongeling!

 

http://www.youtube.com/watch?feature=player_embedded&v=-JdIDf25uOo