Dr. W.L. Grant – Wêreldberoemde Boerseun

Op 20 Julie 1970 kondig die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, mnr. John Vorster in die Parlement aan dat wetenskaplikes, onder die uiters bekwame leiding van dr. Wally Grant, daarin geslaag het om ’n nuwe proses vir uraanverryking te ontwikkel, sowel as die daarmee gepaardgaande tegnologie.

Hy kondig ook aan dat die span besig is met die oprigting van ’n relatief klein aanleg waar uraanverryking gedoen sal word volgens die prosesse wat ontwikkel is, en daarmee is wêreldberoemdheid verwerf.

“Afrikaners het in die verlede al onvergeetlike bydraes tot die wetenskap gelewer maar miskien is hierdie een wat ek vandag aankondig, ongeëwenaard in die geskiedenis van die land,” het die premier gesê.

Die ganse wêreld het aanvanklik die proses bevraagteken, maar moes uiteindelik erken dat dr. Wally Grant en sy span ’n deurbraak gemaak het wat ongekend is in die geskiedenis van die mensdom.

Nie lank daarna nie, is die eerste plofkoppe wat die atoombom bevat, in veiligheid gestoor.

Suid-Afrika het daarmee sy slaankrag aan die wêreld bekend gemaak.

Dr. Grant was ’n stigterslid van Afrikaner Volkswag en het etlike jare op die hoofbestuur van die kultuurorganisasie gedien.