Sianied in water gevind

Die Departement van Waterwese in Sentraal Transvaal, het op ’n dringende basis watermonsters getrek vir ontleding, nadat ’n onverantwoordelike vragmotorbestuurder, vermoedelik sianied in ’n vleigebied naby Olifantsfontein, gestort het.

Die voertuigbestuurder, ene Riley Madzhie, van Johannesburg, het glo nie geweet die vier 300 liter-kanne wat hy by ’n maatskappy in Midrand gesteel het, bevat sulke giftige middels nie.

Hy beweer dat hy die dromme benodig het by sy huis in Soweto, maar wou eers van die gif ontslae raak!

Toe hy sien wat met die skoon water in die vlei gebeur, het hy die storting gestaak.

Gelukkig het ’n verantwoordelike persoon, ’n inwoner van Rooihuiskraal, die storting gesien en alarm gemaak deur die polisie te skakel.

Die polisie het sy tien oproepe wel almal beantwoord, maar nooit opgedaag by die terrein nie.

Hy het die etiket op die dromme nagegaan en gesien dit kom van Rigifoam, ’n sponsrubber vervaardiger.

’n Woordvoerder van Rigifoam het bevestig dat dit hul produk is, maar vermoed dat die houers sonder toestemming van hulle perseel verwyder is deur die vragmotorbestuurder, Riley Madzhie .

“Die besoedelde gebied sal skoongemaak en rehabiliteer word om die publiek en die ekostelsel te beveilig,” het Danie Geldenhuys van die Departement gesê.