Polisie rand beseerde aan.


‘n Saak van aanranding word teen ‘n polisieman van Limpopo ondersoek nadat hy ‘n beseerde man wat ‘n motorongeluk wou aanmeld glo aangerand het.

Bertie Cilliers (51), bestuurder van Anglo American se Tumela-myn tussen Northam en Thabazimbi, het verlede week Saterdag op pad na sy huis in Amandelbult met sy motorfiets in twee donkies vasgery.

Albei sy hande is gebreek. Hy was tot Woensdag in die hospitaal.

‘n Padongeluk moet binne 24 uur by die naaste polisiekantoor aangemeld word.

Cilliers se seun, Dawid (25), is die dag van die ongeluk na die Northam-polisiekantoor om die saak aan te meld. Daar is aan hom gesê ‘n derde party mag nie ‘n ongeluk aanmeld nie. Die polisie het wel ‘n aantekening gemaak dat Cilliers snr. dit sou aanmeld nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Cilliers snr. kon eers Vrydagmiddag na die Northam-polisiekantoor gaan. Sy seun het hom vergesel. Nadat hy gesê het dat die ongeluk op Saterdag gebeur het, het die konstabel gesê dit is te laat om die ongeluk aan te meld en geweier om verder te help.

Cilliers snr. het die konstabel se naam gevra, wat geweier het om dit te gee. Hy het toe sy selfoon uitgehaal om ‘n foto van die konstabel te neem. Die volgende oomblik het hy oor die toonbank gespring en hom op die ribbes geslaan. Aangesien sy hande in verbande was, kon hy homself nie verdedig nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval word intern ondersoek, is onder die aandag van die provinsiale polisiehoof gebring en is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat verwys.