Inkalelies / Alstroemeria of Peruviaanse lelie

Wie van ons ken nie hierdie pragtige lelies nie. Hul pryk mos in die meeste van ons tuine en dis min-moeite plante wat ’n fees vir die oog is wanneer dit blom en hul blom oorvloedig.

Daar is al soveel kleure gekweek en ook dwergplante wat pragtig in die tuin vertoon en glad nie lang stele het wat kan omwaai nie. Die Inkalelies is baie goeie snyblomme en vertoon mooi in ’n vaas en versier ’n vertrek pragtig. Hulle kan tot twee weke in mooi vertoon wanneer dit in ’n vaas is.

Om dit langer vars te hou, meng ’n bietjie bleikmiddel, suiker en groen skottelgoedseep in die water waarin die lelies gerangskik gaan word. 

Die Inkalelie kom oorspronklik van Suid-Amerika.

Die genus (Alstroemeria) is vernoem na die Sweedse Baron Clas Alströmer wat gelewe het in 1736 – 1794.

Plant hierdie lelies op ’n sonnige plek en hulle hou veral van oggendson.  Hulle groei beste in goed gedreineerde grond. Hierdie lelies groei omtrent oral.

In kouer gebiede sterf hulle weens ryp maar loop oor die algemeen weer uit in die laatlente. Gedurende die wintermaande moet Inkalelies baie min water kry omdat die risome dormant is en ’n plant wat baie nat is en te veel water in die risome kry, kan moontlik vrot.

Inkalelies blom gewoonlik regdeur die somer. Hulle groei ook baie goed in potte. Gee die jong plante ’n deklaag om die knolwortels koel te hou en voed maandeliks met ’n gebalanseerde, water oplosbare misstof. Verdeel die lelies elke drie jaar.

Die stele van sommige lelies moet gestut word omdat van hulle 1,5 meter hoog groei. Die blare is dun en gepunt en sit langs die stingel en die blomme is bo-aan die stingel wat die stingel swaar maak en daarom val dit maklik om of breek af.

Pluk gereeld die blomme en trek ook die klaar geblomde stele uit (dit trek baie maklik uit) om nuwe groei en meer knoppe aan te moedig. Wees versigtig wanneer baie dik en lang stingels uitgetrek word, want die plant kan dalk saam uitgetrek word as die grond los en nat is.

Die wortels van die plant is gehard.

Die blomme het ses blaartjies van min of meer 5cm lank en is ook meestal gespikkel in die hart van die blom. Inkalelie blomme lyk baie soos ’n miniatuur lelie en daarom is dit baie gewild om met ander blomme soos rose, gerangskik te word.

Die vrugte (saad) van die plant is in ’n kapsule met drie dele waarin die klein saadjies is. 

Daar is sommer baie werk in die tuin vir Oktobermaand. Ons kan nou Nieu-Guinee-impatiens, pentas, wasblomme ens. plant. Dit is ook nou tyd om Louisiana Irisse die verdeel indien hul klaar geblom het.

Onthou ook sommer om lokaas vir slakke rondom plante te strooi. Daar is soveel om te doen in die tuin en ook soveel om te geniet, veral na die reën wat in groot dele van die land uitgesak het.

Geniet elke oomblik en sterkte met die grasperke wat een van die dae ’n sny nodig gaan hê.