Foutbal

Pakistan verneder Suid-Afrika

Die eerste krieket toets tussen Pakistan en Suid-Afrika in die Verenigde Arabiese Emirate het in ’n lelike pak slae vir die Krieket blommetjies geëindig.

Pakistan, wat tans sesde gekeur is, het net minder as vier dae nodig gehad om die eerste gekeurde Proteas se blommetjies te pluk. Die Proteas het aanvanklik die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle kon slegs ’n beskeie 249 lopies in hulle eerste beurt aanteken. Hashim Amla het die beste met die kolf gevaar en 118 lopies behaal.

In antwoord hierop het Pakistan 442 lopies in hulle eerste beurt aangeteken. Hulle uitblinkers was Manzoor net 146 en Miabah met 100 lopies.

Suid-Afrika het in hulle tweede beurt weereens met die kolf gefaal en het slegs 232 lopies aangeteken. AB de Villiers het 90 van die lopies aangeteken.

Pakistan moes ’n beskeie 40 lopies aanteken in hulle tweede beurt om die toets te wen. Hulle het egter ’n paar benoude oomblikke beleef toe hulle gesteier het op 7/3. Nietemin het hulle die toets met sewe paaltjies gewen.