Eers lykswa bestel, dan skiet.

Senior polisie-offisiere het die dag van die Marikana-slagting vier lykswaens na die koppie ontbied om op ‘n gereedheidsgrondslag te wees ingeval geweld uitbreek, moes die Farlam-kommissie gister hoor.

Adv. Matthew Chaskalson SA, getuienisleier, het dit gesê tydens die getuienis van lt.kol. Duncan Scott, wat vir die opstel van die polisie se operasionele plan, bekend as die sogenaamde Scottplan, vir 16 Augustus 2012 verantwoordelik was.

"Dit blyk dat kolonels Klassen en Madoda van die polisie in ‘n stadium voor 8:30 op 16 Augustus gereël het dat vier lykswaens na Marikana gestuur moet word omdat hulle die myners in Marikana gaan toemaak," het Chaskalson gesê.

Met die onbekwaamheid wat vandag heers, het daar darem een lykswa opgedaag nog voordat die skietery begin het.

Maar Scott sê hy het geen lykswa by die koppie in Marikana gesien nie; hy kon ook nie onthou of die kwessie van lykswaens ooit op ‘n vergadering van die gesamentlike veiligheidsoperasie se komitee bespreek is nie.

Dr. Johan Burger, senior navorser van die misdaad-en-justisieprogram van Sekerheidstudies, vind die bewering "vreemd" en het gesê om lykswaens te ontbied klop nie met die standaard operasionele prosedure waaraan operasies gemeet word nie.

Dit sou ‘n verskriklike erkenning wees om te maak met verreikende implikasies," het Burger gesê.

Jan Fiskaal sê die polisie by Marikana het nie mooi geleer nie. Hulle moes uit die verdoeseling van die moord helder oordag op 50 Zoeloes op 28 Maart 1994 by Shell house, darem geleer het om net hulle skouers op te trek en te sê sulke dinge gebeur maar.