1 Militêr in chaos

Pasiënte in die meeste sale van 1 Militêre Hospitaal in Pretoria moet hulle selfone gebruik om verpleegsters te ontbied wanneer hulle hulp nodig het, aangesien die noodroepstelsel vir pasiënte na twee jaar steeds buite werking is.

Die hospitaal het nou die tweede ultimatum van die Pretoriase stadsraad se nooddienste gekry om te sorg dat die stelses, asook die brandwaarskuwingsgebreke, reggemaak word. Die spertyd is 28 Oktober.

‘n Paar jaar gelede is die hospitaal ‘n ruk gesluit weens gebreke in sy brandveiligheidstelsel. Dit kan weer gebeur as daar nie by die spertyd gehou word nie.

Die jongste sperdatum volg op ‘n vorige spertyd vroeër vanjaar om gebreke in die hospitaal se opknappingsprojek ter waarde van R56 miljoen te probeer regstel.

Die gebreke was skynbaar na ‘n geskil tussen die Departement van Openbare Werke (DOW) en ‘n kontrakteur wat vir die stelsel se installasie verantwoordelik was. Die DOW en die weermag is saam verantwoordelik daarvoor om die gebreke reg te stel.

Intussen is ‘n brandkonsultant aangestel. Dié het ‘n behoorlike brandplan vir die hospitaal opgestel wat deur die munisipale nooddienste goedgekeur is. Tydens ‘n pas-afgeloopte opvolg inspeksie is die probleme met die roepstelsel opgespoor.

Die uitstaande werk om die in werking te stel, is aan ‘n ander kontrakteur toegeken.