Die Lukwart / Eriobotrya japonica

Hierdie immergroen boom is eintlik ’n kategorie 3 indringer.  Die kategorie 3 beteken dat ons hom nie meer mag plant nie en dat hy eintlik ook nie meer in die mark beskikbaar moet wees nie.  U is nie verplig om hom uit te roei as hy alreeds in u tuin is nie.

 

Die lukwart is van die familie Rosaceae en oorspronklik van China.  Dit is ’n groot struik of klein boom en is ook bekend as die Japanese pruim of Chinese pruim.  Hierdie boom het oor die algemeen ’n mooi geronde kroon met ’n kort hoof-stam.  Die nuwe takkies en blare is wollerig.  Die boom kan tussen 5 – 10 meter hoog word.  Die blare is donkergroen, gehard en het ’n leeragtige tekstuur en word tussen 10 – 15cm lank met duidelike are wat deur die blaar loop.  Die wollerigheid van die blare kan afgevee word deur dit te vryf. 

 

Die lukwart is heeltemal anders as ander vrugtebome, want sy blomme verskyn in die herfs of vroeg winter.  Die vrugte sal in die laat winter tot vroeg in die lente ryp word.  Die blomme is 2cm in deursnee, wit, met 5 blaartjies.  Daar kan tot trossies van 10 blommetjies aan ’n takkie verskyn.  Die bomme is baie aromaties en kan van ’n afstand af geruik word. 

 

Na die blommetjies verskyn die vrugte wat ovaal, gerond of peervormig kan wees.  Vrugte is 3 – 5cm lank met ’n gladde geel tot oranje kleur wanneer hul ryp is..  Die vleis van die vruggie is wit, geel tot oranje en smaak soet tot bietjie suurderig, maar nietemin heerlik.   Hoe langer die vruggies aan die boom kan bly hang, hoe soeter word hulle.  Binne die vruggies is daar gewoonlik 3 lobbe met  groot bruin pitte in.  Die skilletjie van die lukwart is  dun en kan maklik afgetrek word wanneer die vruggie ryp is.  Die vrugte het ’n perske/sitrus/veselperske smaak.

 

In Asië is daar tot 800 kultivars.  In Sentraal Amerika groei van hierdie kultivars wild in die veld.  Hulle word deur die saad voortgeplant.  Die hout van die bome is sterk en nie maklik vatbaar vir termiete en allerhande siektes nie en  word dan ook gebruik vir heining pale en ook gewild vir die maak van meubels.

 

Die lukwart bevat baie suiker, suur en die pektieninhoud is hoog.  Die vruggies is ook ryk aan yster, kalsium, vitamin C, magnesium. Sodium en fosfor. Dit kan gebruik word om konfyt en blatjang te kook en word in sekere lande gebruik om wyn van te maak. In Italië word die pitte gebruik in die maak van alkohol drankies. Ongelukkig is die pitte baie groot en daar is nie baie vleis aan die vrug nie. In Japan word die blare gedroog en dan gebruik om weer tee van te maak wat goed is om inflammasie en wonde op die vel te help verlig.  Dit kan ook gedrink word en help dan vir brongitis en ander hoes- en longkwale.

 

Aangesien die winter haas ten einde loop, sal u dalk binnekort lukwarte kan pluk.