SIKLAME / Cyclamen persicum: wintervreugde


Hierdie plante is omtrent ’n vreugde met al die kleure en vorms van blomme in die winter. Dit is ook lonende blommende huisplante. Hulle presteer baie goed in die koel maande vanaf herfs tot winter en selfs in die lente. Siklame is ’n spesie van die blommende herbaceaous plante. Hulle kom voor in baie verskillende lande.

Siklame groei die beste in ’n helder verligte kamer of op die stoep, vertrekke waar geen lugversorging is nie en hulle hou ook nie van warm droë lug nie. Moenie siklame afskeep met water nie en probeer om water van die kroon van die plant af weg te hou. Die beste is om die plant in ’n vlak bakkie met water te laat staan sodat die water deur die dreineergate onderin die potjie opgeneem word. Sodra die plant dan goed nat is, haal hom weer uit die water uit, anders kan hy verrot. Hulle kan ook buite in op ’n skaduryke plek gehou word, maar pasop vir uiters koue toestande.

Siklame vertoon baie mooi as hulle in massa aangeplant word met die baie kleure blomme. Die blomme is welriekend. Die plant se blare is sierlik, hartvormig met silwer-grys merke aan die bokant en pers-groen onderkant.

Hierdie plante kan van sade gekweek word of die plante kan verdeel word en die knolle met die wortels dan weer verplant word. Wanneer die plante begin sukkel en verlep, sit dit buite in die skadu en gee minder water sodat hulle kan uitdroog. Die knolle raak dan rustend twee tot drie maande voor dit weer begin groei. As die somertoestande te warm is, kan dit die knolle benadeel. Volgens die plantkenners is dit die beste om met hulle weg te doen en liewe nuwe plante in die regte seisoen aan te koop.

Dan is dit natuurlik nou tyd vir rose en ander plante om gesnoei te word. Juliemaand is tradisioneel snoeityd. Rose sal nie benadeel word indien hulle tot laat in Augustus nog gesnoei word nie. Mens kan eintlik nie verkeerd snoei nie, want die roos besluit in elk geval hoe hy wil groei. Snoei die ou swak lote of dooie houtlote want dit maak plek vir nuwe lote. Snoei beteken ook dat ons die roos in ’n mooi bos kan vorm en om die hoogte en vertakking bietjie te verminder. Snoei nie meer as ’n derde van u rose af nie. Volgens gesoute rooskenners is dit nie nodig dat bokant spesifieke ogies op die takke te sny nie. U sal sien watter takke om uit te sny wat dik, vaal, en dooierig lyk. Sodra die rose nou netjies gesnoei is, is dit ook die beste tyd vir voeding (roosvoeding by kwekerye en tuinwinkels te koop), en ook sommer genoeg water na die voeding. U gaan sommer binne 2 weke die resultate sien.

Geniet al die snoeiwerk en mag u vreugde uit die rose put wanneer hulle begin blom. Dis darem so bevredigend om in ons eie tuin te sny, snoei en blomme te pluk vir die vaas in die huis
.