Gousblom / Calendula officinalis – ons bekende jaarplant


Wie van ons ken darem nie hierdie pragtige jaarplant nie? Daar is bykans nie ’n tuin waarin ons hulle nie sal vind nie. Hul vertoon ook sommer lekker warm in die tuin. Gousblomme, vilette, viooltjies, gesiggies, petunias en soveel ander saailinge is nou beskikbaar by kwekerye en tuinsentrums. Hierdie is almal sulke pragtige plantjies en dit kikker sommer die wintertuin op. Die gousblomme groei maklik en is mooi snyblomme.

Die gousblom kry sy botaniese naam van die Latynse woord “Calendae” wat die naam was van die eerste dag van die Romeinse maand. Omdat gousblomme nooit ophou blom nie, het dit die reputasie gekry dat dit altyd op die eerste dag van elke maand blom. Die naam “officinalis” dui aan dat die plant medisinale waarde het.

Calendula officinalis is van die genus Calendula van die familie Asteraceae. Dit kom ook in Suid Europe voor en ook regoor die wêreld waar temperature warm is. Hierdie aromatiese plant word 80cm hoog met lang blare wat 5 – 17 cm lank word en is harig aan albei kante en lyk ook gekartelde randjies. Die oorheersende blomkleur is van liggeel tot oranje, maar roomkleurige blomme is nie uitgesluit nie. Blomme het digte fyn blare en kom op die punt van langerige stingels uit. Gousblomme blom vir lang tydperke, in sekere plekke sal hul heel jaar deur blom. Hoe meer die blomme afgepluk word vir die blompot, hoe meer sal hulle blom en ook aanhou blom. Hul kan natuurlik ook van saad gekweek word.

Gousblomme hou van volson en vrugbare, goed gekomposteerde grond wat goed dreineer. Wanneer hulle goed aan die groei is, knyp die punte uit sodat hul die lang bene maak nie. Hulle is bestand teen ryp.

Daar is ook verskillende kultivars en hul is ook eetbaar en is medisinaal bruikbaar. Om ’n tee van die blomme te maak, neem 2 teelepels kroonblare en 750 ml kookwater en laat trek dit 10 minute. Syg dan deur en drink tot 5 koppies per dag. Dit is goed vir die behandeling van die spysverteringstelsel, lewer en galblaas te ontgif. U kan ook moeë oë daarmee baai en ook in badwater te voeg om swaminfeksies te behandel. Ons kan ook ons eie lyfroom daarvan maak. Gebruik 60 gr. Vars gousblom kroonblare of blomme en 200 gr. akwaroom. Smelt die akwaroom oor lae hitte, voeg die gousblomme by en bring tot kookpunt. Prut vir 10 minute en roer aanhoudend. Druk deur fyn gaas of sif om die stuifmeel te verwyder en druk al die vloeistof uit die blomme uit. Gooi in ’n houer, verkoel en verseël. Smeer dit aan die vel om te help met aknee en pitswere, voetskimmel, sonbrand of enige veluitslag wat deur allergie veroorsaak word. Dit kan self op baba se boudjies gesmeer word om te help met luieruitslag.

Gaan besoek gerus u kwekerye en koop ’n paar bakkies gousblomplantjies en geniet die blomweelde daarvan. Dit is so eie aan ons tuine. Geniet u tuin en onthou dat wintertyd die beste tyd is om die indringers te verwyder.