Nuwe wetgewing teen rokers


Die dae toe rokers op die restaurant se stoep ’n dampie kon gaan maak, is verby.
Nuwe bepalings in die regulasies oor rook in openbare plekke is in die finale fase. Na verwagting sal dit binnekort gepromulgeer word, het ’n woordvoerder van die Minister van Gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, bekend gemaak.

Gedurende Maart 2012 is die voorgestelde regulasies in die Staatskoerant gepubliseer en is die publiek geleentheid gegun om daarop te reageer.

Die voorstelle behels onder meer dat niemand by die volgende plekke mag rook nie:
• Binne 10 meter van ’n deur of venster van ’n restaurant;
• By openbare skole of persele waar kinders opgepas word;
• In stadions, arenas, speelterreine of dieretuine;
• Gesondheidsgeriewe;
• Buitelug eet- en drinkplekke;
• Ander openbare plekke waar buitelug-geleenthede aangebied word;
• Onderdak parkeerterreine en voetoorgange
• Binne 50 meter afstand by strande en swembaddens waar geswem word.