Waterblommetjies / Aponogeton distachyos


Waterblommetjies in die Boland, waterblommetjies in die Kaap… Die lekker bredie uit die Kaap! Waterblommetjies word ook Vleikos genoem. Nogal ’n gepaste naam omdat dit ’n waterplant is. Hierdie plante is eie aan die Kaap en groei ook in ander warm klimate in die winter reënvalstreke, natuurlik in damme of vleie. Hulle word dormant as hulle in vleie en damme, wat droog word in die somer, geplant is. Sodra die eerste reën geval het begin die waterblommetjies weer uitgroei.

Hulle groei in gedeeltelike skadu of in volson. Dit is hierdie tyd van die jaar wanneer ons waterblommetjie knolle kan uitplant. Hulle kan in potte of houers geplant word wat dan in die damme onder die water geplaas word of kan direk in die modder in vlak damme geplant word. Waterblommetjies is familie van die Aponogetonaceae . Hulle word ook in ander lande soos Australia, Frankryk, Engeland en Suid en Wes Kalifornië gevind. Hulle maak ook saad wat na die blomtyd bo-op die water dryf wat dan weer geplant kan word. Dit neem 1 – 2 maande voordat die sade sal ontkiem. Die beste is om die saad in aparte potte te plant en die potte dan in vlak water te plaas vir die eerste jaar.

Die wit blommetjies het die geur van Meidoring in die lente en herfs. Die blare is lansvormig en dryf bo-op die water soos waterlelieblare. Daar is ook donker spikkels op die blare. Die blare is 6 – 25 cm lank en 1,5 – 7,7 cm breed met parallelle are. Die blomme groei op ’n regop stingel met 2 takkies in die vorm van ’n ‘Y’ wat bokant die water uitsteek. Hierdie blommetjies het ’n soet aromatiese geur en is wit sommiges lyk of hul ook ligroos kan wees. In die meeste waterblommetjiebredie resepte word lamskenkels, ui, knoffel, u eie speserye en dan natuurlik die blommetjies gebruik. Dit kan in ‘n drukkoker, gewoonweg in ‘n pot of kasserol gekook word en hoe langer dit kook hoe meer meng die blommetjies en die vleisgeur. Heerlik sag en lekker warm op ‘n wintersaand.

Meimaand is nog nie rustyd vir die tuinier nie. Daar is sommer heelwat om te doen in die tuin. Dis nou tyd om kaktusse en vetplante in groter potte of op ander plekke in u tuin uit te plant. Ons kan ook nou affodille, narsings, papawers en petunias saai en uitplant. Verder is dit ook die maand waarin ons ons knolplante soos clivias kan verdeel uit uitplant. Daar is ook nou wonderlike saailinge vir ons tuine by kwekerye te koop en wat ’n fees wag vir ons oor ’n paar maande in die tuin.

Geniet elke oomblik in u tuin ..