Epiphyllum crenatum / ackermanni .. oftewel ons eie ou litrosies of bladrosies


Het u dalk al opgemerk hoe lyk die hangmandjies met lidrosies onder die bome en op sommige stoepe of balkonne? Is dit nie te pragtig nie? Oortrek met blomknoppies en sommige het reeds die blommetjies oopgemaak en dit lyk soos ’n klomp ballerinatjies wat uit die mandjies dans.

Die Epihyllum crenatum en ackermanni is ons bekendste litrosies en die naam pas ook nogal so mooi by hulle. Die blare lyk mos soos litte. Hulle klassifiseer ook onder die kaktusse en word ook die Orchid Cactus genoem. Hierdie pragtige plantjies is ook epifiete of lugplante en word reg oor die wêreld aangetref. Hulle blom natuurlik oorvloedig op die regte tyd.

In 1844 is hulle by die Koninklike Tuinboukundige Vereniging se tuinbou skou bekend gestel en het die hoogste medalje gewen vir die nuwe bekendstelling. Van hierdie plante groei ook op ander plante en daarom word hul epifiete genoem. Ander groei ook op rotse in klam woude.

Die blomme van die epihyllums is verskillende groottes en so ook die stammetjies of takkies. Ons kry dié met die lang aaneenlopende blare wat aan die kante gekartel is, en hul dra gewoonlik die groot blomme. Sommige lyk nogal na orgideë en kom in al die kleure van ligroos, rooi tot geel en oranje voor. Sommige blommetjies het ook dubbel blaartjies en die buitenste is byvoorbeeld rooi en die middelblaartjies wit of ligroos. Die ander litroos is die kleiner tipe met die ballerina blommetjies. Die plant se blare is in litjies aanmekaar en die blommetjies is kleiner. Hierdie blommetjies het ook dubbele blaartjies met verskillende kleure aan een blommetjie. Daar is ook die gewone ou rooietjie wat enkelblommetjies dra met sy geel stuifmeeldrade. Hierdie is nogal ’n baie sterk plant. Hulle groei maklik van steggies en groei ook baie vinnig en blom ook sommer vinnig. Al behoort hulle aan die kaktusse, hou hulle nogal in die warm somer van genoeg water. Hulle is wel gevoelig vir baie koue en ryp. Hul kan in volson of semi-skadu geplant word en sal oral baie goed blom.

Geniet u tuin tot volgende keer