Die goeie en die slegte


Die lesers sal hierdie week weereens lees van die goeie dinge wat gebeur, maar ongelukkig ook van die minder goeie gebeure. Wat egter opvallend is, is die merkwaardige groei wat Die Vryburger beleef met die toename in lesers. Daarvoor is ons dankbaar.

Die gebeure van die afgelope paar dae word oorheers deur die soldate van Suid-Afrika wat in Sentraal-Afrika Republiek doodgeskiet is. Sommige berigte dui daarop dat 200 soldate teen ’n oormag van byna 3,000 rebelle te staan gekom het. Weermag hoofde was reeds maande gelede gewaarsku dat die hele oefening tot ’n selfmoord sending kan lei

As daar in ag geneem word dat die Suid-Afrikaanse soldate tot ’n groot mate aan hulle eie lot oorgelaat is omdat geen lugmag ondersteuning gebied is nie, dan kan daar met reg gevra word wie die besluitnemers was wat die beplanning gedoen het.

Benewens die 13 wat doodgeskiet is, is een soldaat nog vermis en 27 is gewond. Met die eerste berigte wat ontvang is, wil dit lyk asof die kommunikasie met die soldate uiters swak is.

Alles in ag geneem, het die hele operasie Suid-Afrika se beeld ernstig geknak. Die vermoede wat voorheen bestaan het, word hierdeur bevestig: Die SANW is beslis nie op die standaard wat dit 30 jaar gelede was nie.

Die moord op die hondeteler is nog een van die onaanvaarbare gebeurtenisse wat skokkend is. Die aanslag op die pastoor se lewe is ewe onaanvaarbaar maar deur genade is sy lewe gespaar.

Gelukkig is daar ook die goeie nuus. In Bloemfontein word groot feesvieringe beplan vir die res van die jaar aangesien dit vanjaar 100 jaar is dat die Vrouemonument ingewy is. Hierdie geskiedkundige geleentheid is van belang vir elke Boere-Afrikaner. Daarom sal dit goed wees as Geloftefees Komitees, behoudende kultuurorganisasies, CVO-skole en ook strukture soos die Oranje Sake Instituut, sakekamers en volkseie finansiële instellings hulle groete boodskappe gereed maak en aan die Feeskomitee stuur.

U kan ook lees van die Suid-Afrikaanse span wetenskaplikes wat nou ’n reuse projek aanpak om antwoorde te vind oor siektetoestande deur die brein noukeurig te ondersoek. Hierdie projek wat deur die Europese Unie gefinansier word, kan geweldig baie vir Suid-Afrika beteken as dit suksesvol deurgevoer kan word.

Suid-Afrika se wynprodusente het geweldige aansien verkry deur ’n Sweedse wynmaatskappy wat trots is op die feit dat hulle die grootste enkele instansie is wat wyn aankope in die land betref.

Om alles te kroon, is die dames besig om in die komende weke flatervrye resepte vir ons lesers beskikbaar te stel. Uit waardering plant ons nou-al ’n veertjie in hulle hoed.

Geniet die leesstof
Redakteur