Openbare skole vlug weg van apartheidsname


’n Afrikaanse skool in Meyerton wil ontslae raak van sy apartheidsnaam.

Die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, vernoem na wyle dr. D. F. Malan, voormalige NP leier en Eerste Minister van Suid-Afrika is die tweede skool wat besluit het om weg te doen met die naam wat nou vir hulle ’n verleentheid geword het.
“Dit is tyd om na die realiteite te kyk,” het Faan Nolte, voorsitter van die skool se beheerliggaam, gesê.

Hulle is glo afhanklik van finansiële ondersteuning van groot maatskappye en as daar vir hulle ’n probleem is om steun te gee aan skole met so ’n naam, is dit ’n probleem waarna die skool moet kyk.

Hy sê die skool se groei-moontlikhede word dalk in die toekoms in die wiele gery as gevolg van die naam en dan moet dit eerder verander.
Voorheen het die Laerskool Dr. Verwoerd in Meyerton ook besluit om weg te doen met sy naam
’n Woordvoerder van die Republikeinse Vroue Beweging het aan Die Vryburger gesê dat is jammer dat daar mense is wat weghardloop van hul geskiedenis ter wille van geld en ook ter wille van ’n rasgemengde skool.