Nog ’n vreemde vrug vir ons — Vla-appel – … “Custard Apple”


Die Vla-appel kom voor in tropiese gebiede soos Suid Asië, Taiwan, Pakistan, Australië en volgens bronne ook in Afrika en ook die Andes.

Dit is ’n boom wat ongeveer 7 tot 10 meter hoog word. Hy is gevoelig vir ryp, maar wil koel temperature ook hê, anders gaan die boom dormant. Die inwoners van die Andes sê dat die boom nie van sneeu hou nie, maar dat hy dit tog op ’n afstand wil sien!!

Die vrugte het ’n groen dik skil. Die vrug word ook “bull’s heart” genoem, omdat dit die vorm van ’n hart het. Die boom vorm groepe blomme en elke blommetjie het 6 blaartjies wat geel-bruin is met pers in die middel. Die blomtyd is baie kort. Na die blomtyd vorm die vrugte en dit is glo heerlik en daar is mense wat beweer dat dit die lekkerste vrug in die wêreld is. Die vleis van die vrug is wit en roomkleurig met baie bruin pitte in. Die pitte kan maklik uitgehaal word. Die appel smaak na ’n mengsel tussen ’n piesang/pynappel/papaja/
perske/aarbei. Die vrug bevat 15% suiker en +- 20mg/100g Vitamien C. Die grootte van die appel is soos ’n pomelo.

Die ryp vrug se skil is nog steeds groen, maar is bietjie sagter wanneer aan gedruk word. Baie mense verkoel die appels, sny dit in middel deur en eet dit dan met ’n teelepel uit die skil. Sommiges noem dit die “roomysvrug”. Indien die vrug baie ryp word, is die vleis vla-agtig. Indien die skil bruin word by kamertemperatuur, is dit nie eintlik meer goed om te eet nie. Die pitte of sade, is giftig as dit oopgebreek word.

Geniet maar die vrugte wat nou in seisoen is, aangesien ons hierdie appels nie eintlik ken nie. Indien u al van hul iewers gesien het, kan u gerus reageer en ons vertel daarvan.

Appeltjiegroete tot volgende keer