Vir die Feesseisoen: Krismisrose


Krismisrose (Hydrangea) is so lonend en gewild en boonop blom hulle gedurende die feestyd. Daar is alreeds sowat 70 tot 75 verskillende spesies en hul is oorspronklik van Suid- en Oos-Asië en ook Noord en Suid Amerika. Volgens bronne is die mooistes in China, Japan en Korea. Natuurlik het ons in Suid-Afrika ook al ’n hele verskeidenheid van pragtige kleure Krismisrose.

Krismisrose is regtig ’n plesier vir die oog en wat lyk ook mooier as ’n plaat blommende krismisrose en ’n groen grasperk op die voorgrond. Hulle hou daarvan om in die skaduwee van bladwisselende bome geplant te word in leemgrond met ’n effense suur pH-waarde. Hulle groei die beste in gebiede waar daar min ryp voorkom, maar verdra ook die kouer winter gebiede. Ryp sal nuwe groei vertraag. Plant hulle in die laat lente of vroegsomer. Die plante is toksies en moet dus liewer met handskoene aangepak word. Strooi superfosfaat en suur kompos op die grond tussen die krismisrose en werk dit liggies in die grond in. Gee hulle elke twee tot drie dae water totdat die plante gevestig is. Hulle moet ook gereeld een maal per jaar gesnoei word, anders word hulle stingels te lank en sak na die grond en breek af. Wanneer dit gereeld gesnoei word sal jy beloon word met pragtige blomme in die nuwe seisoen.

Party van die blomme lyk soos kant en ander is net kleinerige blomme, maar oorvloedig aan die stingel. Krismisrose blom van die lente tot die herfs. Hulle kan van 1 tot 3 meter hoog groei met welige groen loof. Die blomkleure hang af van hoe suur die grond is. Indien die grond baie suur is, sal die blomme blou wees en in alkaliese grond sal dit pienk wees.

Seënwense vir u almal vir die feestyd. Mag u ’n wonderlike Kerstyd beleef met potte en beddings vol pragtige blomme. Geniet ’n glasie yskoue gemmerbier en ’n skyfie vrugtekoek op die grasperk onder die koeltebome in u tuin!!!