Persimmon – “Sharon Fruit”

Ag hoe heerlik soet, koel en sag op die tong!!!

Vir u wat dit al op die groente en vrugte rakke gesien het, en nog altyd te versigtig was om dit te koop omdat dit soos ’n snaakse onbekende tamatie lyk, gaan koop vir u daarvan. U sal dit weer en weer gaan koop om te gebruik.

Die Persimmon of Sharon Fruit, is miskien nie vir ons baie bekend nie. Dit is maar eers van 1990 in Suid-Afrika gekweek. Die vrugte is inheems van China. Dit het vreeslik gewild geword in die Verre-Ooste en is nou ook baie gewild en maklik verkrygbaar in Suid-Afrika. Die Mediterreense klimaat van die Wes-Kaapse omgewing is die ideale gebied om hierdie bome te plant. L.w. dit is bome en nie ’n plant soos ’n tamatie nie.

Hoe lyk hierdie vrugte? Dit het ’n blink, gladde, harderige skil en dit wil so al na ’n tamatie lyk. Dit is ’n heerlike soeterige vrug en as dit afgeskil is, is die “vleis” van die vrug ferm, geel/oranje en het nie eintlik pitte nie. Dit smaak ook heerlik in vrugteslaai en het ’n besonder sagte effek op die tong, byna soos ’n papaja.

Die vrug is ’n goeie bron van Vitamiene A en is baie veselryk. Volgens bronne is dit baie goed vir die spysvertering, die hart en vir oë. Dit kan in die koelkaste gestoor word vir ’n paar maande maar het nie ’n lang raklewe nie. Dit kan ook gedroog word. Die heel lekkerste is egter om dit te skil, in skywe te sny en …… te geniet!!!

Eet-eet groete tot volgende keer