VIR DIE TUINIER – PERDEBLOM / DANDELION

Soos u weet, saam met die somer, die reën en die son, kom ook die bossies. Sommige plante wat ons as bossies beskou, is nogal nie bossies nie! Hier is ’n baie goeie voorbeeld van ’n “goeie” bossie, die Perdeblom of Dandelion, soos ons hom eintlik ken en gewoonlik hou ons nie baie van hom nie, want hy vervuil mos vreeslik en veral so tussenin ons pragtige groen grasperke. Sy saad is veerlig en waai die hele wêreld vol.

Hierdie plant word as ’n krui geklassifiseer. Hy is baie gesog in Franse disse en dit word daar in Frankryk as ’n groente gekweek.

Hy groei redelik plat en blom van lente tot herfs. Die hele plant kan gebruik word in disse, van die wortels, die blare en die blom, en het nogal groot medisinale waarde. Die blare kan in slaai gebruik word of in warm water gelaat word om te trek soos tee. Die blomme sonder die stingels is ook eetbaar en kan ook in slaaie gebruik word.. Dan kan die wortels van die plant ook gerooster en gemaal word en ook soos koffie gedrink word.
Die blare en wortels van die plant bevat hoë vlakke van potassium, vitamines A, B, C en D en is baie goed vir die lewer en galblaas en dit stimuleer ook die niere. Verder kan dit ook help vir velprobleme, rumatiek, osteo-artritis en jig.

So, van nou af moet ons nie die “bossies” onderskat nie!!