Hospitaal dienste verswak daagliks

Dokters by die grootste hospitaal in Natal het gewaarsku dat hulle sommige operasiesale sal sluit as gevolg van ‘n ernstige tekort aan linne.

Die Vryburger het berigte ontvang dat talle staatshospitale in Durban ly aan ‘n tekort aan teater jasse en ander noodsaaklike linne, en die rede daarvoor is dat wasmasjiene by die departement van gesondheid se grootste provinsiale wassery, gebreek het en klaarblyklik nie herstel word nie.

Die waarskuwing dat operasiesale toe gemaak gaan word, is by Addington Hospitaal bekend gemaak.

Volgens die berigte is vuil beddegoed en ander linne besig om buite die wassery op te hoop. Gevalle is genoem dat die linne by stortingsterreine neergegooi word of buite die wassery aan die brand gesteek is.

Die hospitaal bedryf gaan nou so vinnig agteruit dat dit in die meeste gevalle vir pasiënte beter is om nie opgeneem te word nie, het ’n woordvoerder oor gesondheid aan Die Vryburger gesê.