VIR DIE TUINIER

(PACHYPODIUM LAMEREI)

Hierdie pragtige plant word ook die Halfmens genoem. Hy vertoon pragtig in kliptuine of rotstuine. Hy is deel van die vetplant familie en word ook in boomgidse gelys en word ook die Madagaskar Palm genoem. Dit is nie ’n palmboom nie.

Die plant word 2,5 meter hoog en in sommige gebiede selfs hoër.
Die plant het ’n grys regop stam vol dorings wat 2 – 6 cm lank is. Die stam kan tot 30 cm in deursnee word en die stam is besonder swaar en is ook waterig en gevolglik wil hy nie baie water hê nie. In die winter moet hy glad nie water kry nie, want sy stam verrot vinnig en hy is ook baie gevoelig vir ryp. Hy verloor wel sy blare in die winter. Hy groei egter pragtig in warmer gebiede. Die halfmens hou ook van vol son. Hy sal takke sprei as sy boonste punt afgebreek word.

Hy blom in die lente, as volwasse plant, en dra trosse groot wit blomme met geel in die middel-binnekant en dit ruik ook heerlik. Na blomtyd dra hy sade wat peulvormig is en wanneer hierdie saad ryp is skiet dit oop en verskyn daar wollerige saadjies binne-in die peule. Hierdie saadjies lyk soos die perdeblom (dandelion) sade en kan deur die wind uitgewaai word.
Hierdie plant verplant redelik maklik, maar pasop vir die dorings! Daar is ook ’n Halfmens wat in die woestyne groei, waaroor ons u ’n volgende keer sal inlig.